Die Lewe
Pandemie
Die wêreld is ‘n appel, rooi en reg om af te pluk. Die uur is ryp. Jy, jy met die donker jas: haal jou sekel uit die kas en swaai die sens sekuur: die takke hang al swaar en oorbevolk tot op die grond. |
Vlietend
Ek onthou twee voels: Ons Datsun-bakkie het die een doodgery tussen Burgersfort en Lydenburg. Ek het gehuil want ek’t vooraf gehoop ons ry een raak dat ek hom groot kan maak. My pa’t gedink ek huil oor lewe. Die ander een se oë was nog oop, sy vlerk het swakkies beweeg. Die kat spog met sy prys. Ek moes sy kop drie maal in die rondte draai. Toe sy oë dof toegaan, het ek oor lewe gehuil. |