Godsdienstig / Spiritueel
Buddy is dood
Ecce homo 07/03/1948 – 08/11/2020 Die dobbelsteen is gegooi en dít is die man wat getref is. Dít is die man wat karre gesteel, hardehout gestook en in die tronk leer thinners snuif het. Dit is die man wat met Stanley se mes Stanley se oë uitsteek, met miertjies gesels in solitary confinement en ‘n skerp lepel teen die dak leer pen. Dit is die man wat in die put van ‘n koma die steel van die pik vergewe as die Lig aan die einde van die tonnel die lagies van sy oë af skil. Dit is die man wat by Wonderboom se grot water aandra, Veronica uit haar geweld uit trou tot by ‘n kamer sonder vensters waar junkies hom van sigarette roof. Dit is die man wat, soos die lewe, kanker in sy derms groei, maar steeds Kalafong se Ensure-melkskommels met die snotkopkinders deel. Dit is die man wat net soos Jesus my as vriend en kind benoem as ek opkyk na sy kruis. |
Tradisie
(Met die stola aan) Ek voer die verwagtings pille, die kuikens met oranje bekkies wat nooit versadig word nie. Mý kinders is hulle nie, net ingelegde kleingoed vasgegroei aan die sentiment op die donker spens se rakke. Ek is die houvrou van tradisie, die bewaarder wat wit handskoene in sy tempel moet dra. |