Daar is twee dinge wat my totaal verstom laat in hierdie reis. Die eerste is dat die Here juis hierdie man, dis nou ék, gebruik het in hierdie inisiatief. Ek is nie iemand wat regtig opgewonde raak oor massabyeenkomste nie. Ek staan, om die waarheid te sê, gewoonlik selfs effe skepties teenoor massa-bidbyeenkomste, en was nog nooit by so ‘n Loftus of ‘n oom Angus geleentheid nie. O, ek glo in gebed! Ek hou veral van wat C.S. Lewis sê: “Prayer doesn’t change God, it changes me”. Maar nog meer as dit: ek glo God luister na sy kinders as ons bid. Maar hoekom is ek die een vir hierdie taak? Ek het nie ‘n charismatiese persoonlikheid nie. Ek kan nie, en wil nie, mense “opsaaik” nie, en is maar ‘n gewone ou. In baie opsigte is ek waarskynlik nie eers goeie predikant-materiaal nie.
Die tweede ding wat my verstom in die organisering van hierdie dag, is die mense se reaksie. Van die begin af het ons groepie vir mekaar gesê dat dit nie vir ons oor getalle gaan nie; ons wil net gehoorsaam wees, en dit is in die Here se hande hoeveel mense kom. Maar elke pastoor en predikant waarmee ek kontak gemaak het, was daar so ‘n positiewe en oop reaksie. Sonder om veel moeite te doen, het sewe gemeentes in ons omgewing aangedui dat hulle deel wil wees daarvan. As die biddag in enige gesprek of whatsapp ter sprake kom, is dit asof daar ‘n universele sug gesug word: “Dis so nodig – ek is in”.
Ek weet nie hoeveel mense môre gaan opdaag nie, en dit is nog steeds nie belangrik nie. Maar hierdie mens is reeds verstom oor die manier hoe God in die wêreld werk.
Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.
Dit is deur die Here gedoen en is 'n wonder in ons oë! (Ps 118:22-23)