Snaaks hoe die beste goed altyd ’n geen-toegang bordjie op het. “Bly van die gras af” (Hoekom is die goed dan daar?) “Moenie afduik nie!” (Aa, daar kry ek ’n idee!) Geen wonder die hoërskoolkinders rook so lekker om elke hoek nie. Ons sê dan hulle moenie, so dan moet dit lekker wees. Ek wonder wat sou gebeur het as die apartheid-regime nie besluit het om “Slegs Blankes” bordjies op te sit nie. ’n Geen-Toegang grens is mos een wat jy ekstra graag wil oorsteek. Veral as die gras aan die anderkant die doringdraad regtig groener is.
So week terug ry ek by daardie paadjie op met my maroone Chico golfie. Ek is nog op die gelyk stuk pad voor die eerste opdraand, toe sien ek ’n familie patrysies in die pad. Moederhen, vaderhen en twee kuikentjies. Die gesinnetjie het onwetend ’n uistappie gepleeg reg in ons wêreld van sement in. Maar toe kan hulle nie uit nie. Die randsteen is toe net mooi twee keer te hoog vir die donsies om weer te kan uitskarrel. Om alles te kroon, kom ‘n vierwiel monster met ‘n roostermond op hulle afgedreun. Paniek! Gelukkig vir die goedjies is ek ’n gawe spesimen mens. Gou maak ek die tweepoot-flaffies wydsarm bymekaar en tel hulle oor die baksteenhoë muur. Vry en verlig snol hulle weg en verdwyn in die meer bekende grassies en doringbossies.
Ek klop nou ’n week later myself skielik op die skouer. Vir daardie gesinnetjie het ek ’n verskil gemaak, dink ek. Volgende keer as ’n kuifkop-maatjie vir Calie Kuiken sê “Mense is sleg”, mag hy dalk net piep “Ja, maar....” En Pippa Patrysie piep stroomop as sy saam met die vriendinne vere tooi: “Ek het liefde geruik in daardie een witbobbejaan se hande toe hy my opgetel het”. Hulle oë rek skepties, maar hulle luister.
In my dae was daar nog veldskool. Brag ek of moun ek? Mmmmm... Standerd 8 gaan ons van alle plekke na Amsterdam toe. Dis nou die een in ons land; berug vir sy koue, nie vir sy rooigebiede en Coffee-Shops nie. Een skoongesig Christen KP entoesias vra my toe die vraag nadat hy my politiek vernuftig uitgesnuffel het: “Sê my eerlik – ken jy een bekwame, slim, goeie kaffer?” Ek is grootgemaak om nie een kaffer te ken nie. Maar synde my pa ’n deeltydse predikant in Mamelodi was, het ek darem ’n paar gawe donker gristenmense geken. “Ja, maar...” kon ek piep. En ek onthou vir Samuel wat my Sepedi probeer leer het en mens se hand so laaaank vasgehou het as hy jou groet. Noudat ek daaraan dink het my pa hom ’n sandkaffer genoem. Maar dit was op dieselfde tong-in-die-kies manier as wat ek my goeie vriend Monty ’n vetgat noem wanneer hy my met muurbal rol.
Ai, daai bordjies sit nog steeds daar vas. “Geen toegang – oortreders sal vervolg word” Hulle hang daar in die lug aan onsigbare doringdraad. Die drade is al lankal geknip, maar ons lees nog die bordjies. Die swart en wit bordjies wat nou in museums uitgestal word, spook na 20 jaar maar nog lekker in my kop. En weer wonder ek : Wie sal my vervolg as ek nie na die "Geen Toegang" bordjies luister nie? Dalk selfs vrede.
PS: Het iemand dalk vir my oom Jack van Polisiëring se selnr? Ek wil 'n seisoenkaartjie vir die berg koop.
PPS: Hier aan die regterkant is die oranje knoppie. Met RSS feed op. Druk die ding!