Natuur
Voor uitgang
In die asblik 'n bierbottel, leë pilleboksie. Die asbakkie langs die bed laat kronkel 'n grys slang hipnoties op op die maat van sepie-kenwysies. Darem 'n piesangskil op die vuil mat, gisteraand se polistireen grate van 'n Big Mac en oorblyfsels van aartappels in repies verdrink. Ons moderne lewens (argeologies) rondom ’n snippermandjie gestrooi. |
Dimensie
Ek het 'n hoekie in my tuin ontdek: daar waar die bottelbrush dik takke soos golwe bou en blare jare lank al dik lê. Die lyn tussen lug en grond is breed – aan daardie streep hang wasgoed van 'n ander wêreld. ‘n Sagte nimf het haar nes gebou, agter die draai van die visteria. Sy nooi my nader. Haar arms dra koppies oranjerige water met stuifmeel oorgestrooi. Ek het 'n plekkie in my tuin ontdek. Nou plak dit agter my ooglede vas, alles wat eers oorlog was, is lig en pers en effe sag. |