Nuwe Stemme 6
Hier is 2 van die 6 gedigte wat opgeneem is in Nuwe Stemme 6. Baie dankie vir die bekroonde digters Charl-Pierre Naudé en Bibi Slippers wat soveel moeite met die proses gedoen het.
|
Holberg
Die oues sê die aarde is 'n kremetart en oud. Die jare het haar uitgehol dat net die bas en bietjie hout 'n korfstruktuur daar bou, met ondergrondse steierwerke tot waar die geeste draal. Dit word vertel; as jy jou laaste asem uit sou blaas jy dun sal word: jou hande op sal lig, soos ‘n stukkie strooi sal sak, af met die kors se pype tot in die warm hart. Hulle sê, al het ‘n oog dit nooit gesien nie, ‘n boomsaad daar soos ‘n eier broei en op die dag as die dop oopkraak alle tyd weer oor begin. |
Hartomleiding
Dáár lê die dop van lyf: ‘n hoofgereg langs vlymskerp silwer op ‘n tafel uitgedek. 'n Drietand vurk steek stewig die ribbes van die brose borsie vas, die lem skei haar metodies oop tot by die binnegoed. * Weer markeer die hart sy pas; sy sug nou sterker in haar lyf. * ‘n Wit handskoen wys op prentjies hoe vloei die bloedrooi bloed. Sy knik maar net, gedagtes by die rose wat sy elke jaar voor winter snoei. |